Toe God die aarde, die silwer bal, in vreugde en spel uit sy hand laat val, was ek die baaierd waarin dit weeg, die vormlose, en woes en leeg. Toe ’n stil vroeë water – voor vis of net – tot die eerste wit kiem geëtter het, was ek die donker wat onder skuil: die koue grond en swart klip van die kuil. |
"Inferno", uit Nuwe verse
|
Hierdie webwerf is opgedra aan NP van Wyk Louw die digter, dramaturg, denker en literêre teoretikus. Dit was 'n voorreg en vreugde om hom te ken en onder hom te studeer. Hy regverdig ongetwyfeld 'n eie webwerf, wat hopelik vir baie lesers, studente, skrywers en ander belangstellendes waardevol sal wees. Weë sal aangedui word om sy werk te vind wat in druk bestaan, asook die elektroniese weergawes wat onderweg is by sy uitgewers.
Biografiese en bibliografiese besonderhede vat min vas van die digter van soveel wonderlike, magiese verse. |
Van Wyk Louw se gedigte word in die Versamelde gedigte byeengebring, waarvan die eerste uitgawe in 1981 verskyn. Dis 'n gesamentlike publikasie van Human en Rousseau en Tafelberg Uitgewers. Die poësie wat in dramas voorkom, word o.a. in sy seun Peter Louw se bloemlesing Verborge vuur aangedui. Peter het ook 'n webwerf, wat besoek kan word by:
http://npvanwyklouw.wordpress.com/ Die hoop is dat hierdie werf mettergang uitgebou word om as "portaal" te dien tot alle aspekte van Van Wyk Louw se werk en ook bedrywighede rondom sy poësie. Daar is bepaald ruimte vir 'n Van Wyk Louw-vereniging. |